Welkom by NG Kerk Meyerton. Ons nooi jou uit om saam met ons ‘n ontmoeting met die Here te hê en ons gebed vir jou is dat jy die liefde van Jesus sal ervaar.
Sondae Oggende:
Sondae oggende begin die diens amptelik 09:00. Sondagskool begin direk na die diens. Die kinders kom in die kerk bymekaar waar hulle lekker saam sing en dan na hulle verskeie klassies toe gaan. Daar is altyd ‘n heerlike koppie koffie vir almal om te geniet na afloop van die erediens in die saal.
Wat om tydens die erediens te verwag.
Ons hoop jy vind ons eredienste treffend en geestelik vervullend. Ons sing saam, lees uit die Bybel, bid en luister saam na die boodskap wat ons leraar bring. Ons musiek styl is gebalanseerd om beide die konserwatiewe asook progressiewe lidmaat in ag te neem. Dit wissel van uitsluitlike orreldienste tot gemengde dienste wat ‘n ligter atmosfeer bied. Ons streef na ‘n opregte aanbiddings geleentheid en ons nooi jou om met dieselfde gesindheid by ons aan te sluit.
Vir ons kinders.
Tekkies Kinderkerk
Tydens die erediens, van 09:00 tot 10:00, is daar kinderkerk wat bekend staan as Tekkies. Dit is ‘n woordspeling wat beteken : Ek kies Jesus. Die T word as simbool vir die kruis gebruik. Die koördineerder van Tekkies is Rinda Williams. Tekkies bedien kleuters en laerskoolkinders.
Tekkies begin met opening en gebed, afkondigings en verjaarsdae, lof en aanbidding en dan ‘n pret aktiwiteit met ‘n Bybelstukkie. Na afsluiting beweeg die laerskool kinders na die Sondagskool byeenkoms in die kerkgebou.
Tekkies is elke Sondag buiten skoolvakansies.
Sondagskool
Sondagskool is al vir ‘n baie lang tyd ‘n belangrike deel van die Christelike kerkkultuur. Dit het reeds in 1780 in Engeland begin. In ‘n wêreld vol misdaad en morele vervalling het ons kinders ‘n veilige hawe nodig. ‘n Plek waar hulle in ‘n beskermende omgewing hulle geloof kan bespreek, vrae kan vra oor die Bybel en God, en met ander Christelike kinders kan ontmoet.
By ons gemeente is ons kinders vir ons baie belangrik. Ons Sondagskool opvoeders gee vir die kinders die ruimte om hulleself te wees en hulle geloof uit te leef. Direk na die erediens kom al die kinders van graad 1 tot graad 11 bymekaar in die kerk waar hulle saam deelneem aan lofprysing en aanbidding. Daarna verdaag hulle na hulle klassies. Ons het ‘n baie goeie span toegewyde onderwysers. Die groepies is klein genoeg dat elke kind kan voel hulle het ‘n stem en ‘n plek.
David en Melissa Jacobs is in beheer van ons Sondagskool.

David en Melissa is ’n getroude paartjie en die ouers van twee jong dogters. Hulle is al van kleins af deel van die NG Kerk en het voorheen in die NG Kerk Mondeor-gemeente gedien, waar David ook aktief betrokke was by die jeugbediening. Die afgelope twee jaar is hulle met oorgawe deel van die NG Kerk Meyerton-gemeente.
Met ’n hart vir kinders en jongmense dien David tans as jeugouderling, terwyl Melissa die kategese behartig. Hulle glo dat geloofsvorming die beste plaasvind wanneer ouers en die gemeente saam verantwoordelikheid neem vir die geestelike groei van kinders. Daarom streef hulle daarna om ’n ruimte te skep waar ouers ondersteun, toegerus en aangemoedig word om saam met hul kinders in geloof te groei.
Hulle vertrou dat God deur die kategese kinders se harte sal vorm, hulle sal lei in ’n lewende verhouding met Christus, en hulle sal toerus om as jong gelowiges in die wêreld te leef.
By ons gemeente sal u kinders werklik ‘n heerlike geestelike groei ervaring beleef.