Geskiedenis
Op Donderdagmiddag, 15 Mei 1947, stig die gemeente Meyerton af van die Moedergemeente Vereeniging. Die ringkommissie voer die opdrag van die Ring van Johannesburg uit voor ‘n goed verteenwoordigende vergadering.
Nadat ‘n paar beroepenes bedank het, aanvaar ds. LM Cilliers die taak en word op 8 November 1947 feestelik ontvang in ‘n groot tent wat vir die doel met pale en seile opgerig is. Hierin vier die gemeente ook sy eerste Nagmaal en word sy eerste basaar gehou. Maar voortaan moet die gemeente gebruik maak van skoolgeboue om die eredienste in te hou. Dit was moeilike dae van beperkte ruimte en nou bankies om in te sit, maar die gemeente was dankbaar.
Na ‘n kort tydjie word daar in Meyerton ‘n stadsaal ingewy en lmet die groter ruimte wat dit beskikbaar gestel het, is eredienste na die nuwe Stadsaal geskuif. Die behoefte aan ‘n eie gebou het egter by die dag gegroei en gedurende 1950 kom daar op ‘n wonderlike wyse drie kerksale tot stand. Die gemeente het met ongeveer 770 lidmate afgestig, maar groei so vinnig dat teen die einde van 1948 die duisendtal reeds bereik is.
Ons leraar
Stefan en Carin het mekaar ontmoet in Bloemfontein in hulle matriekjaar. Terwyl Carin onderwys studeer het in Bloemfontein, het Stefan begin met sy teologie graad. Drie jaar later het hulle verhuis na Stellenbosch waar Stefan sy graad voltooi het. In 1982 is hulle getroud in Stellenbosch. Stefan en Carin het twee kinders: Louis, en Jeanette. Jeanette is intussen getroud met Wium. Uit die huwelik is daar onlangs ‘n kleinkind vir die Stassen egpaar gebore, klein Nina.
Stefan was as leraar by die volgende gemeentes werksamig: Sasolburg-Fontein (1988); Sasolburg-Sentraal (1990); Universitas-Wes, Bloemfontein (1995); Waterbron, Bloemfontein (2011). In 2013 het Stefan en Carin verhuis na Meyerton na hy as predikant beroep is. Carin is ‘n graad 4 onderwyseres by Laerskool Republiek in Rothdene. Stefan ry graag fiets en neem jaarliks aan ten minste een wedren deel. Hy ry graag in die klowe en heuwels tussen Meyerton en Heidelberg en gebruik die tyd om te reflekteer. Stefan en Carin is baie lief vir diere en het 3 skaaphonde. Hulle is baie lief vir braaivleis en die buitelewe.
1. Gunsteling musiek
My gunstelingmusiek is maar die klassieke/romantiese komponiste soos Liszt, Beethoven, Chopin, Tchaikovsky, Brahms, Schumann en ander. Dan veral klavierkonserte en klaviersolo’s. Ek luister net daarna as ek alleen in my kar ry, want Carin wil die horries kry as ek dit full blast luister. Sy is meer gemaklik met ligte populêre musiek. My drie gunsteling pianiste is Vladimir Horowitz, Evgeny Kissin en Rudi Geldenhuis. Ek luister ook graag na die groep Piano Guys.
2. Beste Bybelteks (Wat julle lewens aangeraak het)
Jesaja 49:14-15. HY sal ons nooit verlaat of vergeet nie.
3. Wat maak ons gemeente uniek tussen al die ander gemeentes waar julle betrokke was.
Meyerton is die mooiste plek waar ons ooit gebly het – Stellenbosch inkluis, want hier is spasie en die mooiste natuur. Die mense hier is plat op die aarde – hier is maar min snobs hoor – en oor die algemeen is die mense baie gemaklik met hulleself en met mekaar.
Die gawesbediening hier is ook besig om uit sy nate te groei en ek is net dankbaar daaroor.